Apologetics Central

©2019 by Apologetics Central.

Oct 7

Nooit in my Gebedsroem Verleë nie

1 comment

Edited: Oct 7

6 Oktober 2019, Dr. Douw Breed

Ek het gebid en nie ontvang nie –

 

die Here is nie planloos nie. As ek regtig in geloof en met groot erns bid en ek ontvang nie wat ek vra nie, hoe verduidelik en verwerk ek dit? Paulus het ook nie ontvang wat hy gevra het nie. Hy het drie maal (v. 8), dit wil sê met groot toewyding, gebid. Met sy gebed wou hy beslis nie sy selfsugtige begeertes bevredig nie (vgl. die waarskuwing in Jak. 4:3). Hy was oortuig dat die doring in die vlees ‘n hindernis was vir sy diens aan die Here.

 

Nogtans het die Here nie vir hom gegee wat hy gevra het nie. Hoe het Paulus hierdie verwikkeling verwerk? As ek nie ontvang wat ek vra nie, beteken dit nie dat die Here nie op my gebed ag geslaan het nie. Paulus het tot die besef gekom dat die Here wel op sy gebed geantwoord het. Die Here het nie aan Paulus gegee wat hy wou hê nie, maar Hy het, in antwoord op die gebed, aan Paulus gegee wat hy nodig gehad het. Die Here het aan Paulus gegee wat hy volgens die Here se plan vir sy lewe nodig gehad het. Die Here het voorkom dat Paulus ‘n apostel sou wees wat in hoogmoed sy bediening wil uitvoer (v.7).

 

Ek het gebid en is geantwoord –

 

Dié antwoord aanvaar ek met toewyding. Wanneer Paulus volgens vers 9 duidelik maak wat die Here in sy antwoord aan hom “gesê” het, plaas hy die werkwoord “gesê” in ‘n besondere tydsvorm. Hy maak duidelik dat die Here in die verlede gesê het en die gevolge van die Here se “sê” in die verlede, bly in die hede voortduur. Paulus moes telkens wanneer hy die doring in die vlees wat nie weggeneem word nie, intens beleef, die antwoord van die Here verwerk.

Hy moes telkens:

  1. onthou dat dit die Here is wat die doring in die vlees gegee het (v. 7);

  2. dat die Here daarmee ‘n doel het;

  3. begryp dat die Teëstander, die Aanklaer (Satan) ook die beproewing vir sy doeleindes wil gebruik (v. 7);

  4. diep onder die besef van die genoegsame genade wat die Here aan hom bewys het en waarbinne hy leef, die antwoord van God met toewyding aanvaar (v. 9).

 

Ek het gebid en nou gebeur grootse wonders –

 

Sy krag is in en oor my. Gelowiges moet nie die Here se antwoord op hulle gebede met toewyding aanvaar - en dan tog verleë wees nie. Paulus was nie, al het hy die Here se antwoord aanvaar, tog verleë omdat die beproewing in sy lewe nie weggeneem is nie. Menslik beskou lyk dit of hy, sonder die doring in die vlees, ‘n beter bedienaar in diens van die Here sou wees. Maar Paulus getuig anders. Juis met die doring in die vlees – terwyl hy dus “swak” was – gebeur grootse wonders. Christus se krag word in die mens Paulus, die een met die doring in die vlees, die een wat swak is, volbring.

 

Magtige dinge gebeur in Paulus se lewe en niemand kan dit aan die “magtige Paulus” toeskryf nie. Almal ken immers sy “swakhede”, die “beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede” (v. 10) waar hy magteloos aan onderwerp is. In sy swakhede skitter Christus se krag! Wanneer gelowiges se beproewing nie weggeneem word nie, wanneer hulle “swak” is, wanneer jy met bewyse hulle weerloosheid kan aantoon, is hulle nie weerloos nie. Paulus getuig dat Christus se krag oor hom in sy swakheid “tent opgeslaan het” (v. 9). Die krag van Christus skitter wanneer die weerlose gelowige beskut met hierdie krag nie weerloos is nie.