Apologetics Central

©2019 by Apologetics Central.

Oct 3

Godsbewus teenoor Selfbewus

0 comments

Edited: Oct 3

Cornelius van Til (2003: 97) raak in sy bespreking van apologetiek onder andere ’n belangrike aspek aan rondom die kontakpunte tussen twee individue wat met mekaar in gesprek tree. Aan die eenkant is daar die ateïs wat vanuit ’n subjektiewe menslike perspektief redeneer. Hierdie perspektief se uitgangspunt is dat die subjektiewe individu vooropgestel word en as bepalende faktor outonomies te werk gaan met die doel om subjektiewe bewussynswording en die daarmee gepaardgaande bewussynsstrominge as deterministies voor te hou.

 

Die ateïs is vanweë sy verabsolutering van die subjektiewe uitgelewer aan ’n pertinente selfbewustheid. Daarteenoor verkeer die Christelike apologeet in volle oorgawe aan die Drie-Enige God. Hiervolgens beweeg die Christen weg van die self en stel God as die Bron van absolute determinisme ten opsigte van logika, etiek, moraliteit ensomeer. Van Til (2003: 89) maak ’n belangrike punt wanneer hy daarop wys dat die Christelike geloof altyd in sy hoogste vorm gedefinieer moet word en nie in sy laagste vorm nie.

 

Indien die Christelike geloof in sy laagste vorm gedefinieer word, doen dit afbreek aan die geloof en is daar ’n risiko dat die individu gevolglik ook vir God spreekwoordelik opsy wil skuif en die self as subjektiewe individu verabsoluteer tot primêre punt van kennis. Gevolglik bestaan daar dan die gevaar dat die individu verval in ’n vae teïsme en nie ’n suiwer Christelike Reformatoriese uitgangspunt nie. ’n Afgewaterde vorm van teïsme kan ook daartoe lei dat die individu (on)bewustelik beroep tot Rooms-Katolieke doktrine en sodoende dan in mistisisme verval. Van Til (2003: 93) beklemtoon hierdie gevaar veral na aanleiding van die invloed wat Aristoteles op Rooms-Katolieke doktrines gehad het.

 

Te danke aan Aristoteles voer Katolieke doktrine aan dat die mens van die begin af ’n gevalle kant gehad het wat deur God die Vader aan die mens gegee is. Hierdie standpunt is uiters gevaarlik juis omdat dit afbreek doen aan die handewerk van die Skepper en ook omdat dit neig om ’n wanpersepsie van God se almagtigheid en absoluteit tot gevolg te hê. Gevolglik kan God dan beskou word as ’n misterieuse Wese wat ’n element van obskuriteit in sy ontologiese Wese huisves.

 

Wanneer laasgenoemde aanname van obskuriteit van nader bekyk word, moet ’n mens geensins verbaas wees dat mistisisme en die verafgoding van beelde prominente rolle in die Katolieke Kerk vertolk nie. Die mistisisme word gekoppel aan Maria en gevolglik word sy vergoddellik – ’n idee wat deurtrek is met paganistiese beskouing, nie Christelike beskouing nie. Gevolglik dien die verafgoding van die Pous as verdere beklemtoning van, en verdieping in hierdie mistieke element. Veral na aanleiding van die feit dat daar subtiel aangevoer word dat die Pous ’n direkte goddelike element in sy menswees huisves wat hom tot goddellike verklaar. Ironies genoeg kom die ateïsme se begrip van outonomiteit by die spreekwoordelike agterdeur ingeglip en word die Pous sodoende as outonome wese geïdentifiseer. Wat afbeeldediens betref is die heilige ontsag wat daar gekoppel word aan beelde, baie problematies om die minste te sê.

 

Die Gereformeerde apologetiese metode is bevrydend. Dit is bevrydend in twee opsigte: eerstens omdat dit God as Absolute vooropstel en tweedens omdat dit nie die individu se aandag en fokus aftrek deur te fokus op sogenaamde heiliges, beelde, mistisisme en vae teïsme soos die Katolieke doktrine nie. Nee, die individu wat die Gereformeerde apologetiese metode toepas se fokuspunt is suiwer op die verheerliking van God Drie-Enig. Die proses van verheerliking vloei voort vanuit die wyse waarop die individu tydens ’n debat getuig van die almagtigheid van God Drie-Enig as die Absolute.

 

Die vertroostende element speel ook ’n prominente rol in die Gereformeerde apologetiese metodiek, aangesien die Christen nie soos die ateïs uitgelewer is aan immanente problematiek van selfbewustheid nie. Die immanente problematiek van die ateïs se selfbewustheid kom na vore in terme van eksistensiële vrae rondom die self – wie is ek? Voor, tydens en na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het ateïstiese eksistensialiste soos onder andere Albert Camus en Jean-Paul Sartre volumes geskryf oor hierdie kwellende vraag en kon hulle nooit werklik tot ’n bevredigende oplossing kom nie. Al wat telkens hulle gevolgtrekkings was, is dat die mens bloot uitgelewer is aan absurditeit en dat vryheid te veel verantwoordelikheid op die subjektiewe bewussyn lê. Sartre (2008: 3) het selfs sover gegaan om aan te voer dat die mens eintlik net werklik vry is wanneer hy verdruk word. Dit was teen die agtergrond van die verdrukking van veral Frankryk deur die destydse Nazi-Duitsland wat Sartre tot hierdie gevolgtrekking gekom het.

 

Die Christen het nie hierdie probleem nie, aangesien die vraag wie is ek? nie vir die Christen ’n struikelblok is nie, maar eerder deel uitmaak van die bevrydende karakter van sy identiteit in Christus. Soos Paulus immers in Romeine 8: 37 skryf: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” (1983-vertaling).

 

Die ateïs se innerlike worsteling met die vraag wie is ek? is een van die primêre faktore wat sy subjektiewe verstaan van die self negeer en gevolglik as gefragmenteerde subjek laat manifesteer. Omdat die ateïs nie verder as individuele subjektiwiteit kan redeneer nie, kontamineer hy enige vorm van progressie tydens debatvoering.

 

Dit wat die ateïs as progressie beskou, is dus niks anders as regressie nie.

 

 

---------------------------------------------------------------------------------------------------

BRONNE:

Sartre, J.P. 2008. The Aftermath of War. Londen: Seagull Books.

Van Til, C. 2003. Christian Apologetics. New Jersey: P&R Publishing.

New Posts
  • “Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.” (Esegiël 8: 18). Ons lewe in ’n dag en tyd waar sommige mense hulle individuele voorkeure wil gebruik om God se Woord te verdraai soos dit hulle pas. Hulle wil die objektiewe determinisme van God se Woord en Wese ontken en die Skrif tot iets verklaar wat maar net nog ’n teks is wat oop is vir interpretasie. Hiermee voer hulle subtiel aan dat God in sy Wese geen konsekwentheid het nie en dat hy een dag ’n sekere iets sê en die volgende dag iets heeltemal anders. In Esegiël 8 lees ons van ’n voorval waar God die Vader vir Esegiël na die tempel neem en vir hom wys watter gruwelike dinge die volk hulself mee besig hou. Ons lees onder andere van sonaanbidding wat die mense in die tempel beoefen, daarmee saam die doktrines van duisternis wat selfs so ver gegaan het dat Esegiël letterlik sien hoe die mense moeite gedoen het om afgodsbeelde te maak wat “allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel...” uitbeeld (Esegiël 8:10). Hieruit kan afgelei word dat die volk van Israel in afgodediens en demoniese doktrines verval het wat verband hou met die afskuwelike doktrines wat in Babilon en Egipte se okkultiese godsdienste voorgekom het. Die Babiloniërs was veral bekend vir hulle afbeeldings van gode en allerlei hibriede gediertes voor wie hulle gekniel het. Daarmee saam het hulle hemelliggame aanbid en die valse doktrines van sonaanbidding verkondig asof dit die heilige waarheid is. Wat het dit met vandag te doen? Wel, dit het baie met vandag te doen. Hoewel mense nie meer fisiese beelde maak wat hulle in die kerk indra nie, is daar die subtiele aanbidding van afgode soos geld, status en dan ook die magdom valse doktrines wat in die kerk ingebring word. Die kwessie rondom homoseksualiteit is op ’n slinkse wyse in sommige kerke se geledere ingesmokkel. Hulle benader dit as iets wat nie noodwendig hulle goedkeuring wegdra nie, maar terselfdertyd ook nie vir hulle ’n probleem is nie. Hulle redeneer dus dat hulle neutraal daaroor is. Volgens die Woord van God is neutraliteit baie problematies in die opsig dat dit presies dieselfde is as om dit wat verkeerd is, goed te keur. In Johannes se skrywe aan die gemeente van Laodisea, sê God vir die betrokke gemeente dat hulle neutraliteit vir Hom ’n gruwel is en dat Hy hulle spreekwoordelik uit sy mond wil spoeg (Op 3: 14-15). Die kwessie van homoseksualiteit is iets wat ’n prominente rol in sommige dele van die samelewing van antieke Babilon gespeel het. Die Babiloniese “hemelkoningin” (Openbaring verwys na haar as die “sedelose vrou” – sien Op 16), was bekend onder verskeie name, waarvan die bekendste sekerlik Ishtar en Inanna is. Ishtar is in Babilonië beskou as ’n godin wat beide goeie en bose eienskappe gehad het. Sy was omring met homoseksuele mans en vroue en diegene wat gekastreer was. Die komplekse eienskappe van Ishtar word verder ook aangedui deur die feit dat sy verbind word met ’n hele reeks ander gode soos Tammus, Sin, Shamash en vele ander. Dit is juis vanweë die verbinding met Shamash, wat die aanbidding van Saturnus ook ’n prominente rol gespeel het en vrugbaarheidsgodsdienste al hoe meer kompleks en verwarrend geraak het. Wanneer homoseksualiteit in ’n kerk verwelkom word, word die hemelkoningin Ishtar van antieke Babilonië vereer. Opvallend hoe Ishtar beide goedheid en boosheid verteenwoordig het en dit is juis wat ons vandag in sommige geledere opmerk: goedheid en boosheid word op postmodernistiese wyse gerelativeer asof albei maar aanvaarbaar is. Ook opvallend om te sien hoe die problematiek van weerspreking en die spanning tussen teenoorgesteldes in die Oosterse mistisisme hanteer word as iets wat glad nie bestaan nie. ’n Mens kan jouself nou tereg bemoei met die vraag: het die Oosterse mistisisme nou ook sommige kerke binnegedring? Asof die Babiloniese okkultisme en promiskuïteit nie alreeds genoeg skade aanrig nie! Ons Drie-Enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – is ’n God van liefde, nederigheid en goedhartigheid. Maar die belangrike feit is dat Hy ’n volmaakte begrip van alles het. Sy begrip van liefde is volmaak en sy liefde en genade is oneindig groot, maar Hy het ook ’n volmaakte begrip van geregtigheid. Na aanleiding van God se geregtigheid word die mens die kans gebied om weg te kom van dwaling en allerlei praktyke van duisternis. Indien ’n mens nie jou rug keer op die praktyke van duisternis nie, kan God se oordeel jou tref in die vorm wat dit vir Israel in Esegiël 8: 18 tref, waar God so ver gaan as om te sê dat Hy homself nou afsonder en nie verder na hulle gaan luister nie. God is ’n God van liefde, genade en alles wat goed is, maar Hy is glad nie ’n speelmaatjie wat jy kan rondpluk soos dit jou pas nie. Indien ons nie heilige ontsag het vir sy wet nie, speel ons met vuur. Die kerk wat homoseksualiteit verwelkom, is ’n duidelike waarskuwing dat diegene in daardie betrokke kerk wat nog getrou wil wees aan God, uit daardie kerk moet padgee. Let hier op Openbaring 18:4 waar God die pertinente waarskuwing uitreik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.”
  • Normatiwiteit as standaard waarvolgens iets beoordeel word, voorveronderstel dat logika binne sigself ’n betekeniskern van analise beliggaam. Sodoende onderskei individue byvoorbeeld op rasionele wyse tussen geregtigheid en ongeregtigheid. Dit veronderstel dat daar ’n maatstaf moet wees waaraan iets moet voldoen om as regverdig beskou te word (Strauss 2009: 41-42, 92-93). Die maatstaf moet egter in objektiwiteit gefundeer wees, anders verval dit bloot in ’n subjektiewe perspektief van dit wat die individu as geregtigheid beskou. Indien subjektivisme die oorhand kry, word die individuele persepsie van geregtigheid die maatstaf waarvolgens iets beoordeel word en word dit sodoende aan relativisme uitgelewer. Indien relativisme die oorhand kry, bestaan die gevaar dat logika as proses van logiese konsep-formasie in ’n profaniteit van onlogiese konsep-formasie kan verval. Gevolglik kan die teufelskreis (gewelddadige sirkelgang) ’n normatiewe faktor word waarbinne onlogiese konsep-formasie as ’n standaard voorgehou word. Wanneer daar gelet word op die komplekse eienskappe en algemene funksionering van die menslike brein se frontale lob ten opsigte van onder andere argumentering en logika, is dit waansinnig om evolusie as proses waaruit die mens en sy brein kamtig ontwikkel het, voor te staan. Die normatiwiteitsfaktor is byvoorbeeld ’n proses waarvolgens menslike beredenering tussen logiese en onlogiese konstrukte onderskei. Dit op sigself voorveronderstel ’n objektiewe wese wat invloed op die mens uitoefen om met behulp van logika te onderskei tussen moraliteit en immoraliteit; tussen etiese en onetiese optrede. Hiervolgens kan die individu, volgens Strauss (2009: 41), verder onderskei tussen dit wat reformatories en dit wat revolusionêr is. God as almagtige, onveranderlike, absolute en suiwer Wese beliggaam in sy ontologiese Wese ’n objektiewe determinisme waarmee Hy direkte invloed op menslike denkprosesse, vloei van bewussynstrominge en algemene rasionaliteit uitoefen. Jesus Christus illustreer hierdie feit baie duidelik wanneer Hy in Matteus 5: 1-12 die saligsprekinge as deel van die bergpredikasie lewer. Om een van sy saligsprekinge as voorbeeld te gebruik: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matt 5: 6)(1933-vertaling). Hierdie saligspreking dui op Jesus se logiese beredenering as objektiewe Wese ten opsigte van die juridiese aspek in terme van goddellike geregtigheid. Dit is woorde wat troos bring, want die individu weet dat ongeag hoeveel ongeregtighede op aarde plaasvind, daar wel met die wederkoms ’n finale oordeel sal wees waar diegene wat ongeregtigheid laat geskied het, geoordeel sal word en die lex talionis-beginsel deur middel van God se volmaakte begrip van geregtigheid in werking sal tree. Dit spoor die individu wat sy identiteit in Christus vind aan om nie wraak te neem nie, want die wraak kom God alleen toe. Die individu bly biddend en hoopvol volhard in die wete dat God se oordeel goed is. Hierdie wete wat die individu het ten opsigte van God se volmaakte begrip van geregtigheid, is ’n bevrydende wete. Dit is opvallend dat Strauss (2009: 92) daarop wys dat daar by die biotiese aspek ’n afwesigheid van bewussyn is. Hiervolgens is dit ’n gegewe dat die mens as lewende wese wat na God se beeld geskape is, ’n bewussyn het en dus baie meer as net ’n blote biotiese wese is. Hier word die evolusieteorie weereens ’n harde hou toegedien, want die evolusieteorie is immers van uitgangspunt dat die mens ’n blote biotiese wese is wat aan toeval uitgelewer is. Die toeval waaraan die individu volgens die evolusieteorie uitgelewer is, sorg vir ’n ontroosbare lyding en algemene uitsigloosheid. Dit veronderstel ’n donker triade waarin lyding, skuldgevoelens en betekenisloosheid die voorrang geniet. Dit skets die prent van ’n menslike individu as blote biotiese wese wat in direkte kontras is met die beeld wat die Bybel van die mens skets. Volgens die Bybelse uitbeelding van die mens, is ons in sonde ontvang en gebore en het ons aan die verdoemenis in Adam deel. Maar die Bybel is telkens baie duidelik oor die feit dat die mensdom verlossing vind in Christus Jesus as Verlosser en Saligmaker. Die mens het ’n gevalle natuur en is tot sonde geneig, maar deur Jesus het daar verlossing gekom en word ons wat tot die einde toe getrou bly aan Hom as eregaste by die bruilofsfees van die Lam ontvang. Een van die primêre probleme met die evolusieteorie is dat dit die mens as ’n totale irrasionele wese skets, aangesien die mens volgens hierdie teorie ’n blote biotiese wese is. Dit veronderstel ’n wese wat geen bewussyn het nie en dus nie rasioneel kan dink en die komplekse analitiese proses as betekeniskern van logika kan begryp of toepas nie. Terselfdertyd handhaaf evolusie ’n voor-wetenskaplike verstaan van realiteit en is dit in werklikheid glad nie daartoe in staat om enige uitsprake oor wetenskap te kan maak nie. Dit is ’n geloof en in werklikheid nie ’n teorie nie – dit handhaaf in sy diepste wese ’n hipotese wat op sigself so met kontrasterende eienskappe beliggaam is, dat dit in irrasionalisme verval. Hiervolgens poog evolusie om die mens tot irrasionele wese te verklaar. Daar is geen regverdigingsgronde vir die aanname wat sommige individue maak waarin hulle aanvoer dat evolusie versoenbaar is met die Christelike geloof nie. Hulle voer aan dat God evolusie gebruik as ’n dominante faktor in die ontwikkeling van spesies. Dit is in direkte stryd met Genesis 1: 11-12, 21,24 en 25 wat duidelik aantoon dat elke spesie volgens hul soort voortbring. Evolusie voer immers die teenoorgestelde aan deur die aanname te maak dat een soort in ’n ander soort kan ontwikkel. Diegene wat voorstanders van evolusie is, verafgod die mensdom en flirteer met ’n humanistiese beskouing wat aanvoer dat die menslike individu as objektiewe wese funksioneer. Hoe kan hulle hierdie aanname maak wanneer hulle evolusie as ’n geloofsaspek voorhou wat aan hulle die oortuiging bied dat die mens ’n blote biotiese wese is wat aan toeval uitgelewer is? Evolusie is godslasterlik, want deur irrasioneel met die menslike wese om te gaan word die handewerk van ons almagtige God ontken en word daar ook aangevoer dat God in sy objektiewe ontologiese Wese irrasioneel is. Die mens is na God se beeld geskape en ons rasionaliteit, logika en algemene verstaan en interpretasie van realiteit is gefundeer op die objektiewe deterministiese eienskap van God as almagtige en alomteenwoordige Wese. Wanneer die mens irrasioneel optree en in die proses subtiel aanvoer dat irrasionalisme ’n vereiste is, voer hy in wese aan dat God irrasioneel is. Dit is uiters lasterlik en bemoei sigself met die konstruering van onlogiese konsep-formasies. Die mens is logies, rasioneel en analities omdat God na wie se beeld ons geskape is, logies, rasioneel en analities is. Sonder God sou ons nie logiese beredeneringsvaardighede gehad het nie en sou ons woorde en denke niksseggende konstrukte wees wat ’n onlogiese en gefragmenteerde normatiwiteit voorveronderstel. -------------------------------------------------------------------------- Bron: Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the Disciplines . Grand Rapids: Paideia Press.
  • Evolusie beweer alles het uit niks ontwikkel. Die immanente eienskap van niks is niks. Hoe kan iets uit niks ontstaan? Hiervolgens beweer evolusie verder dat die “big bang” die begin van alles was. Die idee van alles wat as gevolg van ’n reuse ontploffing uit niks uit vorm, is egter in direkte kontras met die aanname dat alles uit niks ontwikkel. Hier weerspreek die evolusieteorie sigself gruwelik. Want so ’n ontploffing voorveronderstel ’n organisatoriese faktor wat as bepalende faktor moet optree ten opsigte van wat presies ontplof het en hoe dit ontplof het. Hoe kan hulle beweer alles kom voort uit niks, indien niksheid geen organisatoriese en bepalende eienskappe beliggaam nie? Wat evolusie in terme van etiek en moraliteit betref kan die vraag tereg gevra word: hoe onderskei die individu tussen reg en verkeerd? En verder: waarop is die begrip van reg en verkeerd gebasseer? Ateïste beklemtoon dat daar empiriese bewyse moet wees vir alles. Watter empiriese bewyse het hulle vir die “big bang”? Na aanleiding hiervan kan die verdere vraag gevra word: is daar enige empiriese bewys dat 'n mens empiriese bewyse benodig om iets as geldig te identifiseer. In hierdie opsig weerspreek evolusie sigself baie sterk, aangesien dit byna 'n obsessie daarmee het om vir empiriese bewyse te vra, maar het hulle self die bewys dat dit wel die geval is? Ateïste beweer dat waarneming van die buitenste ruimte met behulp van die Hubble teleskoop baie bewyse invorder vir evolusie en die “big bang”. Indien daar deur middel van konkrete waarneming gevind word dat die heelal aan verganklikheid uitgelewer is, hoe verklaar hulle dan dat evolusie sigself weerspreek in terme van die tweede wet van termodinamika? Volgens evolusie is alles aan progressie uitgelewer in die opsig dat alles konstant verbeter. Maar die tweede wet van termodinamika leer dat alles in die heelal aan verganklikheid uitgelewer is: bome word ouer en val om, mense se oë en gehoor verswak, sterre is uitgelewer aan inploffing, die son is stelselmatig besig om uit te brand, om maar net enkele voorbeelde te noem. Wat die struktuur van atome betref: ’n atoom is die kleinste struktuur in die heelal. Dit bestaan uit 0.00000000000000000001% digtheid en 99.9999999999999999999% leegheid. Die digtheid, ten spyte van hoe enorm klein dit is, is uitgelewer aan presiese beweeglikheid en, ten spyte van die beperkte ruimtelike aspek, ook uitgelewer aan presiese ritme in terme van beweeglikheid. Dit bring ons terug by die eerste vraag: indien selfs ’n atoom binne sigself presiesheid bevat wat getuig van intelligente ontwerp, hoe kan evolusie beweer dat alles uit niks ontwikkel het?